Die Woord vir Vandag

2023-10-21

Moenie net bid nie, glo!

Geskryf deur Bob and Debby Gass

Markus 11:24 NLV

Die Bybel sê: 'As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel...' (Hebreërs 11:6 NLV). God se grootste begeerte is geloof. Jy kan gereeld bid en gevolglik selfs nader aan God voel, maar steeds nie verwag dat Hy jou gebede sal beantwoord of dat jou situasie sal verander nie.

Petrus is in die tronk gegooi en tot dood veroordeel en sy teregstelling is vir die volgende dag geskeduleer. Dus het die kerk die hele nag vir sy vrylating gebid. Dit het wonderbaarlik gebeur. God het die wagte aan die slaap laat raak, Petrus se tronkdeur oopgemaak en hom vrygelaat. Toe Petrus egter by die huis waar die gelowiges besig was om te bid, opdaag, het hulle dit nie geglo nie. "...'n diensmeisie... [het] binnetoe gehardloop en uitgeroep dat Petrus by die buitedeur staan! Maar hulle het vir haar gesê: 'Jy is skoon van jou wysie af!' Toe sy egter daarmee volhou, het hulle gesê: 'Dan is dit seker Petrus se engel'" (Handelinge 12:13-15 NLV). Selfs die vroeë dissipels het gesukkel om te glo dat God hulle sou hoor. Selfs toe die antwoord aan hulle deur geklop het, het hulle gehuiwer.

Ons doen dit ook, nie waar nie? Ons sukkel met gebed. Ons vergeet om te bid en wanneer ons onthou, jaag ons dit met onopregte woorde af. Hoekom gebeur dit? Jy kan enige plek en enige tyd bid en God beloof om te antwoord. Wat is dan die probleem? Ons moet die ongelooflike krag en potensiaal van een gelowige wat bid, besef: 'Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig...' (2 Korintiërs 10:4 NLV). Moet dus nie net bid nie; glo God vir die antwoord. Praat en tree dan op in geloof!

Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 5:16-30; Ps 15; Spr 24:7

Skakels na Bybelverse: Holy Bible

Eerste Rekord    |    Vorige Rekord    |    Volgende Rekord    |    Laaste Rekord

Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za



Current track

Title

Artist

Background