Die Woord vir Vandag
2026-05-14
Sal jy na Christus of na die krisis luister?
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Jesus het vir sy dissipels gesê: '...Kom ons vaar oorkant toe.' Volgende lees ons: 'Daar het 'n hewige stormwind opgekom. Groot golwe het teen die boot gebreek...' (vers 37 NLV). Die dissipels het na Jesus gedraai en gesien dat Hy vas aan die slaap is! Hulle het geskree: '...Leermeester, skeel dit U niks dat ons besig is om te vergaan nie?' (vers 38 NLV). Jesus het wakker geword, die storm beveel om te bedaar en toe vir sy dissipels gesê: '...Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?' (vers 40 NLV).
Wat 'n verstommende teregwysing! Waarom het Jesus hulle berispe? Eenvoudig: hulle het Hom nie op sy Woord geneem nie. Hy het gesê dat hulle na die oorkant toe gaan vaar. Hy het nie gesê: 'Ons gaan in die middel van die see verdrink,' nie. Jesus het reeds die uitkoms aangekondig. Toe die storms egter kom, het die dissipels die gebrul van die winde gehoor en sy Woord vergeet.
Jy sal ook storms ondervind. Winde sal huil, jou boot sal rondgeslinger word en jy sal 'n keuse hê: Sal jy na Christus of na die krisis luister? Sal jy ag op die beloftes van die Skrif of op die geraas van die storm slaan? God het vir Josua gesê om dag en nag oor die Skrif te mediteer (sien Josua 1:8). Die beeld is een van 'n persoon wat God se Woord oor en oor opsê, oefen en oorweeg.
Paulus sê: 'Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid...' (Kolossense 3:16 AFR83). Begin met 'n gebed: 'O God, spreek asseblief vandag tot my hart terwyl ek u Woord lees.' Lees dan die Skrif met 'n oop gemoed, totdat die boodskap jou tref.
Sielskos: Luk 24:50-53; Hand 1:1-11; Ef 4:7-10
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za




