Die Woord vir Vandag
2026-01-30
Hierdie ervaring is besig om jou voor te berei
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Elke ervaring in ons verlede berei ons vir 'n toekomstige geleentheid voor. God verlos nie net ons siele nie; Hy verlos ook ons ervarings - beide goed en sleg. Hy doen dit deur ons karakter te verfyn, ons gawes te ontwikkel en ons lesse te leer wat ons op geen ander manier kan leer nie.
Ons leer die belangrikste lesse deur eerstehandse ervaring in die klaskamer van die lewe te ontvang. Die toetse is uitdagend, maar geen kurrikulum is meer effektief as dit nie. Jy slaag die toets deur in karakter te groei, die gawe te ontwikkel, of die les te leer wat God jou deur daardie ervaring probeer leer. God is aan die werk in jou lewe. Hy doen dit op maniere wat feitlik onmerkbaar is.
Dawid het besef dat hy teen die beer en die leeu moes baklei, omdat dit hom voorberei het om Goliat te oorwin. Dis eers wanneer jy jou grootste uitdaging in die gesig staar dat God jou wys hoe, wanneer en waar Hy jou voorberei het. Dit is dan wanneer jy besef dat die stryd lank voordat jy op die slagveld staan, gewen is. Moses moes vir veertig jaar lank skape oppas voordat hy die kudde van Israel kon lei. Die dissipels moes visvang voordat hulle vissers van mense kon wees.
'n Tyd van voorbereiding gaan elke goddelike afspraak vooraf. As ons ons aan die voorbereiding oorgee, sal God sy belofte nakom. Die tyd wat jy in die skaduwees deurbring, berei jou voor vir die tyd wanneer jy in die kollig sal wees. Die tyd wat jy op die kantlyn deurbring, berei jou voor om aan die voorpunt te wees - en om te wen.
Sielskos: Num 11-13; Luk 7:1-10; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za






