Die Woord vir Vandag
2022-01-15
Wees sagmoedig (1)
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Die Griekse woord wat vir sagmoedigheid gebruik word, beteken 'krag onder beheer.' Die enigste twee mense in die Bybel wat sagmoedig genoem word - Moses en Jesus - was beide sterk. Om sagmoedig te wees beteken dat jy jou reaksies in toom hou. Dis om jou reaksie op mense te kies, eerder as om bloot op hulle te reageer. Kom ons kyk vir die volgende paar dae wat dit beteken om sagmoedig te wees.
Wanneer iemand jou bedien, wees bedagsaam en nie veeleisend nie. Paulus skryf: 'Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange' (Filippense 2:4 NLV). Hoe behandel jy kelners, klerke, administratiewe assistente, werknemers, banktellers, polisie offisiere en ander mense wat jou bedien? Is jy ongeskik en moeiliik? Is jy afsydig en onpersoonlik, asof hulle net deel van die agtergrond is? Besef jy dat hulle dalk ook 'n moeilike dag kan hê, of dink jy net aan jouself? Die eerste manier waarop jy sagmoedigheid ontwikkel, is deur te probeer om die mense wat jou bedien, te verstaan.
Die eerste plek waar jy sagmoedig moet wees, is by die huis. Die Bybel sê: '...Hoe mooi is dit nie as 'n vrou sag en vriendelik optree nie!..' (1 Petrus 3:4 DB). Petrus bedoel eenvoudig dat sagmoedigheid baie aantrekliker as enige klere of juwele wat jy kies om aan te trek, is. Die Bybel sê ook: '...Jy moet altyd mooi optree teenoor jou vrou en haar nie seermaak of ongeskik met haar wees nie...' (vers 7 DB). As jy normaalweg onsensitief en aanmatigend is, sal jy ekstra hard hieraan moet werk. Die Skrif sê dat jy begrip moet hê en nie veeleisend teenoor die mense wat jou bedien en saam met wie jy leef, moet wees nie.
Sielskos: Gen 32-34; Luk 3:1-10; Ps 79; Spr 2:9-10
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za