Ons vier ‘n ander soort liefde

Written by on 12 Feb 2021

Op 14 Februarie vier mense wêreldwyd Valentynsdag, maar as kinders van God vier ons ‘n ander soort liefde – elke dag. ‘n Onwrikbare liefde wat ons deur die donkerste, felste storms dra en wat na die lewens van diegene rondom ons oorvloei.

Phil Callaway skryf in sy boek, Making Life Rich Without Any Money:

In a world characterized by loneliness and despair, we can reach out in love to those around us. Or, as St. Francis once said, we can “preach the gospel all the time; if necessary, use words”.

Geroep om Sy liefde uit te leef

God se liefde is gratis, tog kos dit ons alles, want Hy het ons geroep om sy liefde in ‘n sterwende, gebroke wêreld uit te leef. Slegs wanneer ons Sy liefde vir ons ervaar en verstaan, kan ons dit verder strek as wat menslik moontlik is. In die lig van sy liefde, is ons in staat om die ander wang te draai, dieper te kyk as die seer binne ons en ver bo ons eie vermoë lief te hê.

Dit is sy onvoorwaardelike liefde vir ons wat ons vrymaak, wat ons hoop en geloof vernuwe, en wat ons in staat stel om aan te hou wanneer ons voor uitdagings te staan kom. Dit oorskry onbeskaamd die hindernisse van ras, leerstellings en persoonlike voorkeure.

Die grootste waarhede waarvan enige iemand seker kan wees, is dat God hulle aanvaar, onvoorwaardelik liefhet en dat hulle veilig in die redding van Christus kan wees. Ons kan mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het. Hierdie liefde bind ons as familie van God saam en is dieselfde liefde wat ons aanspoor om uit te reik en gebroke lewens aan te raak.

1 Korintiërs 13:13

En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

Laat ons mekaar aanmoedig tot groter liefde – vir God, mekaar en ‘n gebroke wêreld.


Current track

Title

Artist

Background
Radiokansel 657AM