Die Woord vir Vandag
2019-11-17
Wees geestelik sensitief
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Paulus skryf: 'Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word - hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word - hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak' (vers 5 NLV). Om 'deur die Gees beheer' te word, beteken dat jy sy aansporing gehoorsaam. Jy doen dit deur met 'n bewustheid van sy teenwoordigheid deur jou dag te gaan. Jy onderwerp jou aan Hom wanneer jy in jou hart voel hoe Hy jou aanspoor om 'n spesifieke plan van aksie te volg, selfs al verstaan jy nie hoekom nie. Jy mag dalk aangespoor word om 'n spesifieke gesprek stop te sit, vinnig van 'n sekere televisieprogram af weg te draai, uit 'n twyfelagtige omgewing uit weg te stap of selfs 'n ander roete te volg (Onthou jy die wyse manne in Matteus 2:12?). Wat dit ook al is, doen dit onmiddellik. Die Heilige Gees mag jou dalk oor 'n versoeking waarsku wat jy nie in staat is om te weerstaan nie, tensy jy Hom daar en dan gehoorsaam. Miskien is daar iemand wat deur die dag in jou gedagtes opkom en jy weet dat hy of sy deur 'n moeilike tyd gaan en ondersteuning nodig het. Maak kontak met hulle. God wil deur jou met daardie persoon praat en Hy sal jou seën wanneer jy dit doen. Die Heilige Gees mag jou dalk lei om 'n sekere ding te doen of 'n risiko te neem wat jy jouself nooit kon indink nie. Die wysste stap is om jouself altyd aan sy plan te onderwerp, ongeag of dit vir jou sin maak of nie. God weet alle dinge, insluitend jou toekoms en sy leiding is altyd tot jou voordeel.
Sielskos: Jos 1; Ps 27:11-14; 2 Kor 5:6-10
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za







