Die Woord vir Vandag
2026-08-18
Bid en glo God vir genesing
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Dr A. B. Simpson, stigter van die Christian and Missionary Alliance, is deur swak gesondheid geteister. Twee senuwee-ineenstortings en 'n hartkwaal het daartoe gelei dat 'n dokter hom - op agt-en-dertigjarige ouderdom - meegedeel het dat hy nie veertig sou word nie. Die diagnose was nie vir Simpson 'n verrassing nie. Dit was vir hom 'n foltering om te preek; selfs die klim van 'n effense hoogte het hom asemloos gelaat.
In desperaatheid het hy hom na sy Bybel gewend om uit te vind wat Jesus oor siekte sê en hy het oortuig geraak dat Jesus hom wou genees. Kort daarna het hy 'n entjie in die platteland gaan stap. Toe hy by 'n dennebos kom, het hy op 'n stomp gaan sit om te rus en te bid. Hy het Christus gevra om sy fisiese lewe te seën sodat hy sy lewenstaak kon voltooi.
Hy het later gesê: 'Elke vesel in my het getintel van die bewustheid van God se teenwoordigheid. Van daardie oomblik af het ek letterlik 'n nuwe hart gehad.' Hy het in die volgende drie jaar 3 000 preke gelewer en soms twintig vergaderings per week bygewoon. Hy het 'n produktiewe skrywer geword wie se boeke steeds die wêreld seën. Hy is uiteindelik oorlede - op die ouderdom van ses-en-sewentig.
In die Bybel het Jeremia gebid: 'Here, U alleen kan my gesond maak...' Dawid het gesê: 'Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. Here, U het my gered van die doderyk...' (Psalm 30:3-4 NLV). Jesaja het gesê: '...U het my gesondheid teruggegee en my toegelaat om te lewe!' (Jesaja 38:16 NLV). Bid dus en glo God vir genesing.
Sielskos: 2 Kro 25-28; Mark 6:45-56; Ps 119:89-96; Spr 21:20-23
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za







