Die Woord vir Vandag

2026-09-30

Erken jou tekortkominge

Geskryf deur Bob and Debby Gass

Jakobus 5:16 NLV

Luister na dagstukkie

Dit voel of daar vandag om elke hoek en draai iemand is wat 'n verskoning vir sy of haar swak keuses, prestasie of gedrag maak, of versuim om hul swakhede of tekortkominge te erken. Tog maak ons almal foute. Een van die beste voorbeelde van iemand wat sy fout erken het, word in die verhaal van Dawid wat onregverdig deur koning Saul agtervolg is, gevind. Dawid het 'n voortvlugtige geword en in die proses onwetend die lewens van sekere priesters in gevaar gestel toe hy hulle om hulp genader het.

Agimelek, die priester, het hom kos en 'n swaard gegee en God namens hom geraadpleeg. Doëg, koning Saul se hoofveewagter, het die hele ding aanskou. Saul het Agimelek gekonfronteer, hom daarvan beskuldig dat hy met Dawid saamgesweer het en Doëg beveel om hom en vyf-en-tagtig ander priesters en hul hele families dood te maak.

'Net Abjatar, een van die seuns van Agimelek en kleinseun van Agitub, het weggekom en na Dawid toe gevlug. Toe hy vir Dawid vertel dat Saul al die priesters van die Here doodgemaak het, roep Dawid uit: 'Ek het so gedink! Toe ek dié dag vir Doëg die Edomiet daar sien, het ek geweet hy sou vir Saul vertel. Ek het die dood van jou pa se hele familie veroorsaak' (1 Samuel 22:20-22 NLV).

Wat 'n erkenning! Geen verskonings nie, net 'n erkenning dat hy 'n verskriklike fout gemaak het deur by hulle hulp te soek. Hy het hom egter daaraan verbind om nie die fout te herhaal nie en daarvoor probeer vergoed: 'Bly hier by my en moenie bang wees nie. Die een wat jou wil doodmaak, wil my ook doodmaak. By my is jy egter veilig' (1 Samuel 22:23 NLV). Mense maak foute. Hulle het blindekolle. Vrede vind plaas wanneer ons ons tekortkominge aan mekaar erken.

Sielskos: 2 Kor 1-4; Mark 16:1-8; Ps 68:1-18; Spr 25:13-16

Skakels na Bybelverse: Holy Bible

Eerste Rekord    |    Vorige Rekord    |    Volgende Rekord    |    Laaste Rekord

Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za



Current track

Title

Artist

Background