Die Woord vir Vandag
2026-04-17
Wees oortuig van God se liefde vir jou
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Wanneer jy misluk, misluk God se liefde nie vir jou nie. Jy moet dit egter glo om die volheid van dit wat Hy vir jou het, te geniet. Die wete van God se liefde sal jou tot oorwinning dra wanneer die magte van die hel teen jou is. Die wete van God se liefde sal jou deur die lewe se storms en na 'n plek van vrede dra. God se liefde is nie tot die dae wanneer jy goed presteer beperk nie. Hy het jou net so lief gedurende die tye wanneer jy misluk.
Jy moet oortuig van sy liefde wees, veral wanneer jy deur beproewing gaan en die duiwel jou beskuldig en sê: 'Wel, jy moes iets verkeerd gedoen het.' God se liefde word nie op 'n merietestelsel uitgedeel nie. Jy het niks gedoen om sy liefde te verdien nie; daarom kan jy niks doen om dit te verbeur nie.
Johannes het geskryf: 'Ons leef uit die wete en is absoluut oortuig daarvan dat God ons liefhet. God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in 'n hegte verhouding met God en God met hulle. Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik, dat ons vrymoedigheid kan hê op die oordeelsdag. Want dan sal ons ook in hierdie wêreld wees soos Hý is. Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volwasse liefde bemeester nie' (1 Johannes 4:16-18 NLV).
Wees dus ten volle oortuig van God se liefde vir jou.
Sielskos: Hand 6-7; Matt 2:19-23; Ps 130; Spr 10:24-26
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseƫn het by gospel@radiokansel.co.za




