Die Woord vir Vandag
2026-04-26
Bly getrou aan die waarheid van God se Woord
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Die Bybel sê: 'Liewe Christene, sê nou een van julle raak die koers byster en iemand sou hom reghelp, wat dan? Wel, iemand wat so 'n persoon weer op die regte pad help, help hom om nie sy lewe weg te gooi nie' (vers 19 DB). Dit beteken dat ons ander mense moet help. Dit beteken ook dat ons nooit ons oortuigings eenkant toe moet skuif nie. As ons nie 'n doelbewuste poging aanwend om naby die waarheid van God se Woord te bly nie, sal ons daarvan afdwaal. Ons leef immers in 'n wêreld met baie afleidings. Vandag is baie mense op soek na antwoorde en aanvaarding en onderskat dus die belangrikheid van die waarheid soos dit in God se Woord geopenbaar word.
Die apostel Paulus het aan sy opvolger Timoteus geskryf: 'Jy moet getrou bly aan die dinge wat jy geleer het. Jy weet dit is waar, want jy weet jy kan dié vertrou wat jou geleer het' (2 Timoteus 3:14 NLV). Hy het ook vir Timoteus aangemoedig: 'Verkondig die woord van God. Hou daarmee vol, of die tyd geleë is of nie. Jy moet jou mense met geduld reghelp, weerlê en bemoedig met gesonde onderrig. Want daar kom 'n tyd wanneer mense nie meer na die regte onderrig sal luister nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle wil hoor. Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg. Maar jy moet in elke situasie jou teenwoordigheid van gees behou. Moenie bang wees om vir die Here te ly nie... Voltooi die bediening wat God jou gegee het' (2 Timoteus 4:2-5 NLV).
Die woord vir jou vandag is dus - bly getrou aan die waarheid van God se Woord.
Sielskos: Matt 1:18-21; Luk 2:11; Hand 4:8-12
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za




