Die Woord vir Vandag
2026-07-27
Wees 'n 'ek kan' persoon
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Mense het erge weerstand gebied teen uitvindings wat ons deesdae as alledaags beskou en elke dag geniet. In Duitsland het 'kundiges' gesê dat as treine so vinnig as vyftien tot twintig myl per uur sou ry - wat as 'n skrikwekkende spoed beskou is - bloed uit die reisigers se neuse sou stroom en passasiers sou versmoor wanneer hulle deur tonnels gaan. In Amerika het kenners gesê die bekendstelling van die spoorlyn sou veroorsaak dat baie nuwe inrigtings vir kranksinniges gebou sou moes word, aangesien mense mal van vrees by die aanskoue van die lokomotiewe sou word.
Toe die idee van ysterskepe die eerste keer voorgestel is, het kenners daarop aangedring dat hulle nie sou kon dryf nie, dat dit moeilik sou wees om die ysterbodem teen roes te bewaar en dat yster kompaslesings sou verwar. In 1797, toe die eerste gietysterploeg uitgevind is, het boere in New Jersey dit verwerp en gesê dat die gietyster die grond sou vergiftig en die groei van onkruid sou stimuleer. Toe die YMCA in New York die uitvinding van die tikmasjien verwelkom en tiklesse vir vroue aangekondig het, het protesoptogte plaasgevind omdat daar geglo is dat die vroulike konstitusie onder die druk daarvan sou ineenstort.
Kyk nou na die volgende stellings, wat elkeen die produk van 'n negatiewe denkwyse was: 1) 'Vlieënde masjiene wat swaarder as lug is, is onmoontlik' (Lord Kelvin, President, Royal Society, 1895). 2) 'Die mens sal nooit die krag van die atoom benut nie' (Robert Millikan, Nobelpryswenner in fisika, 1923). 3) 'Alles wat uitgevind kan word, is al uitgevind' (Charles H. Duell, Direkteur van die Amerikaanse Patentkantoor, 1899). As jy groot dinge wil bereik en deur God gebruik wil word, moet jy 'n 'ek kan' persoon wees.
Sielskos: Esra 9-10; Mark 1:1-8; Ps 46; Spr 19:18-20
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za







