Die Woord vir Vandag
2026-10-13
Die paaie na jou lewensdoel
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Jy sal waarskynlik verskeie paaie op pad na jou lewensdoel volg. Toe Luciano Pavarotti 'n seuntjie was, het sy ouma hom dikwels op haar skoot getel en gesê: 'Jy gaan wonderlik wees - jy sal sien.' Sy ouma het egter gedroom dat hy 'n bankier gaan word! In plaas daarvan het hy 'n onderwyser geword. Hy het 'n rukkie by 'n laerskool skoolgehou en soms by spesiale geleenthede gesing. Sy pa was die een wat hom uitgedaag het om sy stem te ontwikkel en vir hom gesê het dat hy ver aan sy potensiaal tekortskiet.
Uiteindelik, op twee-en-twintigjarige ouderdom, het Pavarotti die onderwys verlaat om versekering te begin verkoop. Hy wou 'n stabiele werk hê waarop hy finansieel kon staatmaak, indien hy nie sukses in die musiekwêreld kon behaal nie. Die versekeringsmaatskappy het hom tyd gegee om sanglesse te neem, en soos hulle sê: 'Die res is geskiedenis.' In 'n onderhoud het die operaster gesê: 'Om sang te studeer was die keerpunt in my lewe.' Toe het hy bygevoeg: 'Dis 'n fout om die veilige pad in die lewe te kies.'
Dit verg moed om 'n posisie wat jy as veilig beskou, te verlaat en in 'n nuwe rigting te begin beweeg, maar sonder risiko kan jy nooit jou potensiaal verwesenlik of alles waarvoor God jou geskape het, bereik nie. Die grootste risiko van alles is om geen risiko te neem nie, want die persoon wat niks waag nie, bereik niks, het niks, voel niks en word uiteindelik niks. God mag jou langs verskeie paaie op pad na jou lewensdoel lei, maar as jy jou aan sy wil onderwerp en sy leiding volg, sal jy vir seker slaag.
Sielskos: Eks 22-24; Joh 4:1-12; Ps 89:15-37; Spr 26:20-22
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za







