Digitale radio: DRMSA en Radiokansel neem die voortou

Written by on 12 February 2026

Radiokansel neem vanaf 13 Februarie (Wêreldradiodag) deel aan ‘n agtmaandlange Digital Radio Mondiale (DRM op FM) demonstrasieproefneming wat deur die DRM Suider-Afrika (DRM SA) Groep onderneem word.

Dit sal DRM, wat in die FM-band funksioneer, ten toon stel en die tegniese, kommersiële en openbare voordele daarvan, binne die Suid-Afrikaanse omgewing, evalueer.

Radiokansel is een van slegs drie radiostasies in Suid-Afrika wat aan die proefneming deelneem.

Afstandsonderrig – geen internet of data nodig nie

Hierdie proefneming word onder ‘n ICASA-toetslisensie vanaf die Northcliff High-Site in Johannesburg van stapel gestuur. Dit sal die deur oopmaak vir toekomstige klaskamerstyl- en afstandsonderrig, sonder die gebruik van die internet of data.

DRM-spesialiste sal demonstreer hoe DRM uitsendings, elektoriniese leerinhoud deur middel van klank, teks en beelde kan lewer. Inhoud kan regstreeks ontvang en gestoor word vir gebruik op aanvraag, wat leerkontinuïteit verseker, selfs waar internetkonneksie swak of nie beskikbaar is nie.

DRM-ontvangers skakel die sein om in ‘n gratis plaaslike Wi-Fi-hotspot, wat tablette, skootrekenaars of fone toelaat om toegang tot lesse te kry sonder om op ‘n internetkonneksie staat te maak. KI-tegnologieë, soos hoë-gehalte teks-na-spraak-klank, sal ook beskikbaar wees om die skep, vertaling en aanpassing van leerinhoud te ondersteun.

Vroeë-waarskuwingstelsel

In geval van plaaslike of nasionale noodgevalle sal luisteraars met DRM radio-ontvangers in die toekoms waarskuwings via ‘n vroeë-waarskuwingstelsel kan ontvang.

Verskeie radiodienste gelyktydig uitgesaai

Deur ‘n enkele FM-frekwensie te gebruik, bied die DRM-platform die geleentheid dat verskeie radiodienste gelyktydig uitgesaai word. Uitsaaiers sal digitale skerms en dienste kan gebruik om uitsette te verbeter, terwyl betroubare menslike storievertelling die kern van radio bly.

Bevindinge van die proeflopie sal help om toekomstige radiobeplanning in Suid-Afrika te rig.

Klik hier onder om te registreer vir ‘n demonstrasie op 13 Feb 2026 om 17:00.

Digital Radio Mondiale Celebrates UNESCO World Radio Day 2026 with Special Training and Global Broadcasts


Current track

Title

Artist

Background