Die Woord vir Vandag
2022-09-25
Hoe om 'n goeie gesindheid te behou
Geskryf deur Bob and Debby Gass
'n Slegte gesindheid is soos 'n pap wiel; jy sal nêrens kom as jy dit nie vir 'n ander een verruil nie. Min dinge in die lewe is so belangrik soos jou gesindheid en hier is vier maniere hoe jy 'n goeie gesindheid kan behou:
1) Besef dat jou gesindheid aanhoudend aangepas moet word. Enigiets wat jy nie in stand hou nie, versleg uiteindelik. Hoe sterker jou natuurlike neiging tot twyfel en negatiwiteit is, hoe harder sal jy daaraan moet werk. Begin dus elke dag deur jou gesindheid te ondersoek en kyk deurlopend deur die dag vir rooi vlae uit dat jy nie so goed vaar nie.
2) Bid, omdat jy God se hulp nodig sal hê om 'n goeie gesindheid te handhaaf. Die Bybel sê: 'Vertrou op die Here en doen wat goed is. Woon in die land en geniet veilige weiding. Wees bly in die Here en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here... Hy sal vir jou sorg' (Psalm 37:3-5 NLV).
3) Kyk uit vir dit wat goed is en jy sal dit vind. Moeder Teresa het twee dinge van diegene wat saam met haar in die Kalkutta-krotbuurte gewerk het, vereis: 'n begeerte om te werk en 'n vreugdevolle gesindheid. As sy vrolik onder die sterwendes en behoeftiges kon wees, kan jy sekerlik ook!
4) Kyk uit vir mense met geloof en bestee tyd saam met hulle. Waar is hulle? Jy sal hulle vind waar hulle bo die twyfelaars soos arende sweef. As jy 'n slegte dag het, beweeg agter hulle in en sweef saam in hulle lugstrome. As hulle sukkel, moet jy die een wees wat voor vlieg en dinge makliker maak. Dawid het sewe keer per dag vir God geloof. Kan jy dink wat dit vir jou gesindheid kan doen?
Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za




