Die Woord vir Vandag
2026-07-25
Jy benodig meer van die Heilige Gees (2)
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Die Heilige Gees gee ons wysheid bo ons kennis, mag bo ons krag, en gawes bo ons vermoëns. Met sy hulp word ons beter as ons beste poging en beter as ons beste gedagte. Ons word die beste weergawe van onsself. Natuurlik neem dit 'n leeftyd. Daarom het Paulus geskryf: 'Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie sal ons op die regte tyd oes.'
Dit is moeilik om 'n boer voor te stel wat 'n landery vol koring plant en dan verbaas is dat dit nie mielies oplewer nie. Hoekom? Omdat jy maai wat jy saai. Tog lyk sommige van ons geskok wanneer die saad van sonde hul oes oplewer. Wat plant jy dus? Liefde of haat? Vreugde of ondankbaarheid? Geduld of ongeduld? Selfbeheersing of selfbevrediging? Die wet van saai en maai kan jou breek of jou maak - mits jy aanhou om die regte saad te saai. Wil jy 'n oorvloedige oes hê? Dan het jy meer van die Heilige Gees nodig.
Die Heilige Gees kan jou egter nie vul as jy vol van jouself is nie. Die voorvereiste om dus meer van die Heilige Gees te hê, is om eerlik, nederig en honger vir sy leiding te wees. Galasiërs 5:22-23 gee 'n lys van die nege vrugte wat die Heilige Gees in ons lewe voortbring. As jy meer van die Heilige Gees wil hê, beteken dit dat jy letterlik meer liefde, meer vreugde, meer vrede, meer geduld, meer vriendelikheid, meer goedheid, meer getrouheid, meer sagmoedigheid en meer selfbeheersing wil hê (sien Galasiërs 5:22-23). Die goeie nuus is dat jy soveel van die Heilige Gees kan hê as wat jy wil.
Sielskos: Esra 6-8; Matt 28:11-20; Ps 42:6-11; Spr 19:15-17
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za







