Die Woord vir Vandag
2019-12-21
Die wet van plekaanwysing
Geskryf deur Bob and Debby Gass
God het die Tuin van Eden geskep, Adam daarin geplaas en hom beveel om dit 'te bewerk en te versorg.' God het gesê: '...Wees vrugbaar [en] vermeerder...' (Genesis 1:22 NLV). Met ander woorde: 'Wees suksesvol.' Let egter op, daar is 'n definitiewe volgorde: Eerstens: God berei 'n plek vir jou voor. Tweedens: Hy plaas jou in die plek. Derdens: Hy sê vir jou om dit 'te bewerk en te versorg.' Vierdens: Hy sê: 'Ek wil hê dat jy sukses moet behaal.' Dit word die 'wet van plekaanwysing' genoem. Jy sal net in die plek waar jy hoort, terwyl jy doen wat God jou geroep het en toegerus het om te doen, floreer. Dit sal ook nie maklik en vinnig wees nie; jy sal daaraan moet werk. Die wet van plekaanwysing word dwarsdeur die Skrif duidelik gemaak. Na sy lewensveranderende ontmoeting met God, lees ons: "Jakob het die plek Pniël genoem, want hy het gesê: 'Ek het God persoonlik gesien. Tog is my lewe gespaar'" (Genesis 32:30 NLV). Dis waar God sy naam van Jakob, wat bedrieër beteken, na Israel, wat 'prins van God' beteken, verander het. God het met die profeet Elia in die middel van 'n hongersnood gepraat en gesê: '...Gaan bly in die dorp Sarfat naby die stad Sidon. Daar woon 'n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg' (1 Konings 17:9 NLV). Eden was die plek van vrugbaarheid. Pniël was die plek van radikale verandering. Sarfat was die plek van goddelike voorsiening. Is jy in die plek waar God wil hê jy moet wees? As jy nie seker is nie, praat vandag met Hom. '...Ek is die Here jou God wat jou leer wat reg is. Ek lei jou op die pad waarop jy moet loop' (Jesaja 48:17 NLV).
Sielskos: 1 Kor 1-3; Matt 1:6b-11; Ps 113; Spr 31:14-17
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za







