Prof Jan van der Watt


Prof Jan van der Watt shows

Professor Jan van der Watt is sedert 1986 reeds deel van die Radiokansel-familie. Hy is ‘n afgetrede dosent en ‘n bekroonde skrywer.

Hy was aanvanklik meestal as gas betrokke by verskillende programme op Radiokansel. In 2000 word hy ‘n gereelde aanbieder van die program Wat sê die Bybel.  In 2009 emigreer hy na Nederland, maar tien jaar later, in 2019, keer hy terug na Suid-Afrika. Hy is nou die aanbieder van die program genaamd Bybelkennis. Prof van der Watt se stem is ook jare lank op die Afrikaanse nasionale radiostasie Radio Sonder Grense gehoor toe hy Sondae-aande die aanbieder van Die Bybel in ons lewe was.

Prof Jan van der Watt – Agtergrond

Hy het aan verskillende universiteite in Suid-Afrika gestudeer en twee doktorsgrade verwerf; een in teologie en een in Grieks. Van 1980 tot 1986 was hy dosent aan die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap. Hierna verhuis hy na die Universiteit van Pretoria, waar hy van 1986 tot 2009 as Nuwe Testament Professor dien. Van 2009 af werk hy in Nederland as professor aan die Radboud Universiteit Nijmegen, waar hy in 2018 aftree en na Suid-Afrika terugkeer.

Dié professor is ook ‘n bekende skrywer en redakteur van Christelike boeke. Hy het bykans 40 gewilde boeke onder sy gordel. Daarvan is boeke soos Die Boodskap, Die Bybel A-Z, Die Apokriewe van die Bybel, Ontdek die Nuwe Testament, Die Nuwe Testament vir kinders, My eerste Boodskap en vele meer. Hy het verskeie toekennings vir sy werk ontvang, waaronder die Totius-toekenning, die Andrew Murray-toekenning en die Jan H. Marais-toekenning.

Die rykdom van God se boodskap en liefde maak hom opgewonde. Hy is dankbaar vir elke geleentheid wat die Here hom gee om die Evangelie te deel.

Die Bybel is die grondslag van die Christelike lewe, want dit is in die Woord waar jy die ware openbaring van God in Christus leer ken.

Daarom fokus sy program op die Bybel en die verstaan van die boodskap van die Bybel. Skakel in saam met Prof Jan van der Watt op Radiokansel vir Bybelkennis elke Donderdag 11:00 – 12:00.



Current track

Title

Artist

Background