God breek die leuens oor jou lewe

Written by on 1 Aug 2022

Voel jy soms dat jy vasgevang word in die leuens wat die wêreld oor jou uitspreek en jy weet nie hoe om dit te breek oor jou lewe nie? Wie jy is, waar jy inpas, wat jy mag en nie mag doen nie… Het jy aanvaar dat hulle woorde mag oor jou het, dat dit beter is om net hulle siening van jou uit te leef? 

Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.

Jeremia 1:5

God het ‘n ander plan vir jou

Dis nie wat Hy vir jou beplan het nie. God het jou gemaak, jou in die moederskoot sel vir sel aanmekaar geweef, perfek in Sy oë. Deur die Bybel heen ontmoet ons vrouens wat, volgens die wêreld, nie veel aandeel in die Verlossingsverhaal het nie, wat nie daar hoort nie. ‘n Onvrugbare vrou, ‘n skoonheids-kompetisie wenner, ‘n prostituut en ‘n weduwee, waar sou hulle ‘n rol speel in die wêreld vind?

Het hulle gewyfel onder die druk? Natuurlik! Dit moes swaar gewees het om te weet wat die gemeenskap van jou dink, wat hulle daaroor van jou verwag.

Luister: Vreugde & Joy potgooie saam met Bertha Le Roux-Wahl

Hedendaags sal ons in ‘n boksie gedruk word. Miskien is jy ‘n goeie chef, maar sukkel om die voortou in ‘n kombuis te neem, uit vrees dat jy heeltemal uit die kombuis gejaag sal word. Dalk het jy ‘n droom, om ‘n besigheid te begin, maar staan eerder terug want dis nie ‘n rol waarin ander jou sien nie. Jy het jouself dan oortuig van die wêreld se “waarheid” – weggeskram van die geleenthede en passies op jou pad. 

Wat het die vroue in die Bybel gedoen? Het hulle opgegee? Het hulle aanhou glo dat hulle nie sal kan bydra tot die gemeenskap nie, of het hulle opgestaan en die besluit geneem om God se waarheid oor hulle te glo. Sara, Ester, Ragab en Rut het teen die wêreld se verwagting opgetree, in God se waarheid, en sodoende het hulle belangrike figure in die Bybel geword wat vir ons die pad kom voorberei het tot by Jesus.

Vertrou God se waarheid in jou lewe, breek die leuens van die wêreld wat jou terughou.

Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

John. 10:10

Vir daaglikse inspirasie lees ons dagstukkie, Die Woord vir Vandag, op jou gunsteling Christen radiostasie.

Geskryf deur Bertha le Roux-Wahl


Current track

Title

Artist

Background