Voltooi die wedloop van die lewe

Written by on 18 Jul 2022

Ons leef in uitdagende tye en die versoeking om op te gee en nie die wedloop van die lewe te voltooi nie, is vir baie ‘n werklikheid. Vandag wil ons jou aanmoedig om die wedloop te voltooi. Daar sal tye wees wanneer jy voel jy wil die handdoek ingooi, maar moenie moed opgee nie. Jy is nie alleen in hierdie stryd nie.

Meeste van ons ken Johannes 3:16

God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Jesus verstaan die uitdagings wat ons in die gesig staar

God die Vader het sy Seun gegee en Jesus het Homself vrywillig gegee. Hy het fisies die verskeie stadiums van menslike ontwikkeling beleef – van babawees – tot kleuterwees – tot kindwees – tot tienerwees – tot volwassene. Hy ken die uitdagings wat ons in elke stadium van ons lewe in die gesig staar; Hy het die lewe op aarde eerstehands ervaar.

Waarom sou Jesus, wat deel van die almagtige Drie-enige God is, Hom hieraan onderwerp? Liefde is die antwoord. Maar hoekom was Sy laaste woorde: “Dit is volbring” as Hy die ewige lewe het, wat aan die regterhand van die Vader sit? Ek glo dit is omdat Hy nooit die doel, die groter prentjie, uit die oog verloor het nie. Hy het meer as drie dekades op aarde deurgebring om uiteindelik hierdie ‘doel van liefde’ te bereik. Hy het Sy lewe op aarde gebruik om liefde teenoor ons te betoon – nie net deur ons liefdevol met Sy woorde en gelykenisse te lei nie, maar ook deur Sy dade. Sy liefde vir ons het wonderwerke, genesing en bevryding gemotiveer; en daardeur die Vader se liefde gewys.

Omdat Jesus volkome God en volkome mens was, het Jesus moeg geword en is getoets, maar Hy het nooit moed opgegee nie. Terwyl hy in die tuin van Getsemane was het hy gevra dat die bitter beker van aardse dood by hom verbygaan. Toe dit nie gebeur het nie, het Hy nie die doel uit die oog verloor en weggehardloop soos Sy dissipels nie. Hy het Sy lewe gegee, sodat ons kan lewe, terwyl Hy Sy laaste woorde uitblaas: ‘Dit is volbring’.

Vandag ontvang ons riglyne van God deur Sy Woord en deur die Heilige Gees. Soms voel ons die taak op ons hande is ‘te groot’ en ‘neem te lank’. Dit is wanneer twyfel insluip. Maar as ons weer op Jesus fokus; vul hoop ons en stel ons in staat om voort te gaan; om deur te druk, maak nie saak wat nie.

Jesus het die wedloop voltooi, en so sal ons ons wedrenne voltooi, deur Sy genade.

Vir daaglikse inspirasie skakel in op jou gunsteling Christelike radiostasie op 657 AM, of lees Die Woord vir Vandag. Jy kan ook na ons potgooie luister op iono.fm. Jong volwassenes kan ook inskakel op I AM Youth.

Geskryf deur Jean Lung: Groepbestuurder: Kommunikasie


Current track

Title

Artist

Background