Die vele maniere waarop God met ons praat

Written by on 27 June 2022

Hoe om na God se stem te luister is een van die moeilikste onderwerpe om oor te skryf omdat Hy op ‘n individuele vlak persoonlik met elkeen praat. Tog is daar ook beginsels wat vandag nog as riglyne dien.

Luister en hoor

Menslik gesproke is dit moeiliker om te luister as om te hoor. Moses en Elia kon albei daarvan getuig. Die brandende bos-ervaring wat Moses beleef het, toe God met hom gepraat het, was ‘n intense en heilige oomblik. Hy het presies geweet wie met hom praat – God het homself duidelik geïdentifiseer. Maar toe het God vir hom ‘n opdrag gegee waaroor hy nie baie opgewonde was nie (Eks 3:1-6). Elia moes ook baie fyn luister voordat hy God se stem in die geluid van ‘n sagte fluistering kon hoor (1 Konings 19:12).

Na die aardbewing was daar ‘n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte.

1 Konings 19:12

Dit laat jou jouself afvra: Moet ek en jy verwag om net by spesiale en uitsonderlike geleenthede soos Moses en Elia God se stem te hoor? Maar terselfdertyd moet ‘n mens ook die teenvraag vra: ‘Het die gesegde “…en die Here het vir my gesê…” te algemeen en ‘n bietjie goedkoop geword?’

Gelukkig kan ons almal sê dat daar nog baie maniere is waardeur God met ons praat. Om ‘n paar te noem, hy praat met ons deur:

  • ‘n antwoord op ons gebede
  • preke
  • oop- en toemaak van deure (geleenthede)
  • deur ander mense (maar in Jer 23:16-17 waarsku die profeet ons teen valse profete wat valse verwagtinge skep).

Dit is meestal deur Sy Woord dat Hy met ons sal praat, maar dan verwag Hy dit ook van ons om Sy Woord met die nodige toewyding te lees!

Die feit is dat ‘n gesprek met God steeds ‘n heilige oomblik is, en ons moet seker maak dat ons Sy boodskap aan ons verstaan en vasstel of dit werklik Sy stem is wat ons hoor. Dit sal dalk baie geduld verg, en ook gewilligheid om te doen wat Hy van ons vereis, al is dit ‘n belangrike, maar ongemaklike opdrag.

Geskryf deur Jean Lung

Vir daaglikse inspirasie skakel in op jou voorkeur Christelike radiostasie op 657 AM, of lees ons dagstukkie, Die Woord vir Vandag. Vir Christelike boodskappe luister na ‘n potgooi op iono.fm.


Lees verder

Current track

Title

Artist

Background