Die Woord vir Vandag
2022-09-02
God sal jou ondersteun!
Geskryf deur Bob and Debby Gass
God het vir Josua gesê: '...Steek die spies in jou hand na Ai toe uit. Ek gee die stad in jou mag oor...' (Josua 8:18 NLV). Dis wonderbaarlik hoe dapper jy voel wanneer jy God se ondersteuning het. Wanneer jy weet dat Hy aan jou kant is, kan jy sê: 'Geen wapen wat teen my gemik word, sal iets teen my kan uitrig nie' (sien Jesaja 54:17).
Oormoed is egter selfvertroue wat nie op vertroue in God gebaseer is nie. Ons probleem is dat ons dinge beplan, sê en doen sonder om eers seker te maak dat God ons daarin ondersteun. Kan jy onthou wat die bose gees vir die mense wat nie deur God se Gees bekragtig is nie en Paulus se bediening probeer na-aap het, gesê het? '...Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar wie's júlle?' (Handelinge 19:15 NLV).
Wanneer jy aangeval word, moet jy seker wees dat: 1) jy in die regte posisie met God is (sien 2 Korintiërs 5:21), 2) dat dit God se stryd, sowel as joune is (sien 2 Kronieke 20:15), en 3) '...wat julle ook al op aarde sou afwys, sal ook voor God verbode wees. Maar wat julle ook al in orde vind, sal ook voor God in orde wees' (Matteus 18:18 NLV). As God dit nie goedkeur nie, moet jy ook nie. Jou selfvertroue kom deur die wete dat jy binne sy wil optree.
Die Bybel noem ons: '...Gód se werkspan...' (1 Korintiërs 3:9 NLV), dus kan jy nie net sommer jou eie ding gaan doen nie. Moenie die berg probeer beweeg wat God nie wil hê moet beweeg nie. Ons doen op aarde slegs wat Hy in die hemel as sy wil verklaar het. Hy sal ons daarin ondersteun!
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Mark 9:38-50; Ps 103:1-12; Spr 19:12-16
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za




