Die Woord vir Vandag
2019-10-06
Is jy 'n 'ek eerste' persoon?
Geskryf deur Bob and Debby Gass
As jy 'n 'ek eerste' persoon is, kan hierdie Skrifgedeelte jou help om jou op jou tone - en op jou knieë - te hou. 'Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s'n wees' (Filippense 2:3-5 NLV). Dis hoe Jesus mense behandel het en jy is geroep om dieselfde te doen. Is dit maklik of gerieflik? Nee, dit druis teen alles in ons selfgesentreerde natuur in. Net omdat jy gister genadig was, beteken ook nie dat jy vandag mense dieselfde sal behandel nie. Genade is soos 'n kleed; jy moet dit elke oggend aantrek en dit heeldag dra. 'Hoe kan ek so lewe?' vra jy. Deur daagliks krag uit God se genade te put en te besluit om ander mense eerste te stel. Deur op die uitkyk te wees vir geleenthede om hulle te ondersteun en te bemoedig. Almal wat jy ontmoet is besig om 'n stryd te voer en jy mag dalk die een persoon wees wat oor hulle pad kom wat 'n woord van bemoediging vir hulle kan gee (sien Spreuke 16:24). Moet hulle nie in die steek laat nie. Nederigheid is 'n houding wat voor die tyd bepaal word: 'Ek gee vir die mense rondom my om. Ek hoef nie altyd eerste te wees nie. Ek gaan vir 'n verandering iemand anders help wen.' Nederigheid bid: 'Here, bekamp my mededingende natuur en verander daardie energie om ander mense op te lig en lief te hê. Wys my hoe U dit gedoen het en help my om dit ook te doen.'
Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za






