Die Woord vir Vandag
2026-01-08
Elke dag van jou lewe is 'n geskenk
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Die motiveringspreker Denis Waitley beskryf 'n ervaring wat sy lewe vir ewig verander het. Hy moes 'n vlug haal om 'n motiveringspraatjie te gaan gee, maar was laat en het deur die lughaweterminaal gehardloop om die vlug te probeer haal. Net toe hy die hek bereik, het die agent die deur voor hom toegemaak. Denis het sy dilemma verduidelik, maar die agent wou nie die deur weer oopmaak nie.
Hy het woedend omgedraai en na die kaartjietoonbank gegaan om 'n klagte in te dien en sy vlug te herskeduleer. Sy woede het toegeneem terwyl hy meer as twintig minute in 'n ry wat skaars beweeg het, moes wag. Net voor hy sy beurt by die kaartjietoonbank sou kry, het 'n aankondiging oor die interkom sy lewe verander. Die vlug wat hy misgeloop het, Vlug 191 van Chicago na Los Angeles, het neergestort kort nadat dit opgestyg het. Daar was nie enige oorlewendes op die vlug nie. Denis het nooit sy klagte ingedien nie. Hy het ook nooit sy kaartjie vir Vlug 191 wat hy nooit gebruik het nie, weggegooi nie. Hy het dit huis toe geneem en dit op 'n kennisgewingbord in sy kantoor vasgeplak.
In die nasleep van daardie ervaring, het hy elke keer as hy geïrriteerd of ontsteld gevoel het, net na daardie kaartjie van Vlug 191 gekyk. Dit was 'n onvergeetlike bewys dat die lewe 'n geskenk is wat nie onderskat moet word nie. Die Psalmdigter het geskryf: 'Die getal van ons jare kan 70 wees, of as ons sterk is, 80... Die lewe is gou verby, en ons bestaan nie meer nie... Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid kan bekom' (verse 10, 12 NLV).
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Luk 1:67-80; Ps 3; Spr 1:29-31
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za




