Die Woord vir Vandag

2026-01-18

Eerlikheid is die beste beleid

Geskryf deur Bob and Debby Gass

Spreuke 10:9 NLV

Luister na dagstukkie

Ter voorbereiding van aandete het 'n vrou by 'n klein slaghuis gestop om vleis vir die ete te koop. Sy het besluit om gebraaide hoender as hoofgereg te maak. Sy het die man by die toonbank vir die grootste hoender wat hy het, gevra. Hy het na die koelkamer toe geloop, die laaste hoender wat hy gehad het gegryp en dit op die toonbank se skaal geplaas. 'Hierdie een weeg twee kilogram, mevrou.' Die vrou het 'n oomblik daaroor nagedink en toe gesê: 'Ek is nie seker of dit genoeg sal wees nie. Het u nie dalk 'n groter een nie?'

Die man het die hoender terug na die koelkamer geneem, gemaak of hy deur die ys vir nog 'n hoender soek en toe dieselfde hoender weer uitgebring. Toe hy die hoender weer op die skaal sit, het hy skelmpies met sy vinger 'n bietjie druk op die skaal toegepas. 'Aha,' het hy met 'n glimlag gesê, 'hierdie een weeg amper drie kilogram!' Die vrou het gefrons, 'n paar somme in haar kop gedoen en gesê: 'Ek is ook nie seker of dit genoeg gaan wees nie. Ek sê jou wat - draai hulle albei vir my toe!'

Daar is geen twyfel daaroor nie - eerlikheid is die beste beleid. Dis waar van hierdie lewe, sowel as die lewe wat kom. Die Bybel sê oor hierdie lewe: 'Die een wat opreg lewe, staan vas. Die een wat kronkelpaaie loop, kom tot 'n val.' Die Bybel sê ook die volgende oor die lewe wat kom: 'Julle moet dus nie voortydig 'n oordeel vel voordat die Here kom nie. Hý sal sy lig laat skyn op die dinge wat in die donker verborge lê, en Hý sal die motiewe van ons harte aan die lig bring...' (1 Korintiërs 4:5 NLV).

Sielskos: Gal 5:22-23; Jes 26:3; Rom 5:1-2; 2 Kor 13:11

Skakels na Bybelverse: Holy Bible

Eerste Rekord    |    Vorige Rekord    |    Volgende Rekord    |    Laaste Rekord

Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za



Current track

Title

Artist

Background