Die Woord vir Vandag
2022-09-11
Moenie mense se vermoë om te hoor, 'afsny' nie
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Bitsige woorde kan 'n persoon se vermoë om te hoor wat jy te sê het, 'afsny.' Toe Jesus deur Judas verraai is, het Hy nie weerwraak geneem nie, selfs al kon Hy twaalf legioene engele tot sy verdediging geroep het (sien Matteus 26:53). Toe die skare kom, het hulle Hom gegryp en gearresteer. Op daardie punt het Petrus sy swaard uitgepluk en die slaaf van die hoëpriester se oor afgesny. Petrus het seker gedink: 'Ons moet terugbaklei!' Jesus het egter gesê dat dit nie die manier is hoe mens dinge moet hanteer nie. '...Daarna het Hy die oor aangeraak en dit gesond gemaak' (Lukas 22:51 NLV).
Petrus het die neiging gehad om te praat wanneer hy eintlik moes luister en betrokke te raak by situasies wat nie sy besigheid was nie. Hy moes leer om op God te wag en nederigheid en onderskeidingsvermoë uit te oefen. God het groot planne vir hom gehad, maar hy kon dit nie vervul as hy rondgeloop het en mense se ore afgekap het nie.
Daar is 'n les hier te leer. Jy kan nie jou humeur verloor soos jy lus het nie. Jy moet sensitief vir God se Gees word: As Hy vir jou sê: 'Moet niks sê nie,' moet jy stilbly, selfs al beteken dit dat jy iemand laat dink hulle is reg wanneer jy weet dat hulle verkeerd is. Jy moet leer dat God jou nie 'n verduideliking skuld nie. Jy kan jou geestelike groei of God se seën in jou lewe verhinder wanneer jy nie dit wat jy sê, beheer nie. Miskien dink jy dat, in vergelyking met owerspel of steel, dit nie so erg is nie. Dink weer: 'Iemand wat op sy woorde let, bevorder die lewe. 'n Bitsige antwoord kan alles ruïneer' (Spreuke 13:3 NLV).
Sielskos: 2 Kon 6:8-20; Ef 1:15-23
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za




