Die Woord vir Vandag
2019-12-26
Vertrou op God se tydsberekening (2)
Geskryf deur Bob and Debby Gass
God het 'n plan vir jou lewe wat vereis dat sekere dinge op 'n spesifieke tyd moet gebeur. Aangesien Hy die groter prentjie sien en jy met beperkte inligting werk, moet jy Hom vertrou - selfs al kan jy nie sien hoe dit alles bymekaar gaan kom nie. God kan die verlies van 'n verhouding of werk gebruik en dit ten goede vir jou laat uitwerk. Die probleem is egter dat jy ongemaklik en heeltemal ellendig voel terwyl Hy besig is om te werk. Sewehonderd en twee-en-tagtig jaar voor Jesus se geboorte, het die profeet Miga gesê dat Hy in Betlehem gebore sou word (sien Miga 5:1). Maria en Josef het egter in Nasaret gewoon. Hoe het God die probleem opgelos? Die Romeinse keiser Augustus het beveel dat 'n sensus opgeneem moes word: 'Almal het teruggegaan na hulle eie dorpe om vir die sensus te registreer. En omdat Josef 'n afstammeling van koning Dawid was, moes hy na Betlehem, Dawid se tuisdorp, gaan. Hy het vanaf die dorp Nasaret in Galilea vertrek. Hy het sy verloofde, Maria, wat teen dié tyd ver swanger was, saamgeneem. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word. Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, 'n seun...' (Lukas 2:3-7 NLV). Is jy bekommerd oor die toekoms? 'Hou die Here se hand styf vas; doen net wat Hy sê. Op die regte oomblik sal Hy jou hoog bo al jou probleme uitlig...' (Psalm 37:34 DB). Ontspan: die God wat gereël het dat sy Seun in die regte familie, op die regte tyd, in die regte plek gebore word, sorg vandag vir jou.
Sielskos: 1 Kor 10-11; Matt 2:1-12; Ps 139:1-12; Spr 31:25-27
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseƫn het by gospel@radiokansel.co.za







