Die Woord vir Vandag
2026-01-16
Hoe om te bid wanneer jy eensaam is
Geskryf deur Bob and Debby Gass
'Vader, toe Adam eensaam was, het U Eva gemaak en haar na hom toe gebring. Ek sukkel met eensaamheid en net soos U geweet het wat Adam nodig gehad het, so weet U ook wat ek nodig het. U het in u Woord gesê: '...Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie' (Hebreërs 13:5 NLV). Daar is 'n deel van my wat nooit deur enige verhouding behalwe deur een met U, bevredig of vervul kan word nie. U het my egter ook geskep om sosiaal te wees en interaksie met ander mense nodig te hê.
Help my om enige negatiewe gedrag van my kant af te erken en gedrag wat kan veroorsaak dat mense my nie geniet en aanvaar nie, soos om krities, afgunstig, humeurig, veroordelend of onvergewensgesind wees, te stop. Gee my asseblief wysheid sodat ek sal weet hoe om gepaste woorde op die regte tyd te gebruik. Maak asseblief my ore oop om met ware begrip na hulle te luister (sien Jesaja 50:4). Help my om skaamte en die vrees vir verwerping te oorkom en om na ander uit te reik in die geloof dat U tot hulle hart kan spreek en hulle oop en ontvanklik kan maak.
Leer my hoe om hulle liefde, hulp en vrygewigheid te aanvaar. Help my om te verstaan dat ek na my verhoudings moet omsien en nie net aandag aan vriende moet gee wanneer dit vir my gerieflik is nie. Help my om 'n betroubare vriend te wees (sien Spreuke 18:24 NLV). U weet wat ek in 'n verhouding nodig het. U het Dawid en Jonatan, en Rut en Naomi bymekaar gebring. Daarom vra ek U om my by die regte persoon of persone te voeg. In Jesus se naam. Amen.'
Sielskos: Dan 1-2; Luk 3:11-20; Ps 81; Spr 2:11-15
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za




