Dis tyd om ‘n nuwe lied te sing

Written by on 2 Jul 2021

Dit is tyd om ‘n nuwe lied te sing omdat dit ons donkerste uur is! Miljoene mense wêreldwyd beleef tans ondenkbare verlies, uitdagings en onsekerheid. Laat die kinders van God saam hulle stemme ophef om ‘n nuwe lied te sing.

Rut se geloofsreis

Ek is oortuig daarvan dat Rut ‘n nuwe loflied gesing het toe die Here ingegryp en haar omstandighede omgedraai het. ‘n Nuwe dag het beslis vir haar aangebreek.

Rut was Naomi se Moabitiese skoondogter. Na haar man se afsterwe, het sy Naomi se geloof bo die talle gode en kulture van die Moabiete gekies. Sy het selfs vir Naomi gesê:

Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God.

Rut 1:16

Sy het in geloof saam met Naomi na ‘n nuwe land vertrek, na mense wie sy glad nie geken het nie. Rut se ‘nuwe begin’ het uit ‘n noodgedwonge situasie ontstaan, nadat sy en haar skoonma hulself as weduwees bevind het. Naomi was sonder twee seuns en ‘n man gelaat. Vanuit ‘n menslike perspektief klink dit glad nie soos ‘n nuwe begin of iets waaroor ‘n mens lofliedere sal wil sing nie.

Wees in lyn met God

As gevolg van haar begeerte om haarself in lyn met Naomi en haar God te posisioneer, het Rut se lewe wonderbaarlik verander. Toe hulle, sonder enige voorsiening in Bethlehem aankom, het die Here ingegryp en Rut na Boas se eiendom gelei. Rut het haar geloof in aksie gestel deur haarself in lyn met Noami te posisioneer, met die gevolg dat die Here Rut in lyn met Boas geposisioneer het, sonder dat sy bewus was van Sy planne van voorspoed vir haar.

Wanneer ons onself in lyn plaas met God se Woord en Sy wil, skep Hy ‘n pad en voorsien Hy deurbrake wat ons verstand te bowe gaan.

Dalk het jy ook iets in jou lewe waarmee jy worstel? Mag ons, as kinders van die Allerhoogste, kies om onsself in lyn met die Here se wil vir ons te posisioneer, soos wat Rut dit ook eeue gelede gedoen het. Mag Sy wonderbaarlike ingryping in ons lewens ons ‘n nuwe loflied laat sing!

Vir meer inspirasie, luister gerus na ons potgooie op iono.fm of teken in op ons gratis dagstukkies Woord vir Vandag.

Geskryf deur Jean Lung.

Tagged as

Current track

Title

Artist

Background
Radiokansel 657AM