Die Woord vir Vandag
2023-10-04
Wees altyd dankbaar teenoor God
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Die joernalis Fulton Oursler vertel die verhaal van 'n bejaarde verpleegster genaamd Anna. Gebore as 'n slaaf aan die oostelike kus van die staat Maryland, het sy Fulton se geboorte, plus dié van sy ma, bygewoon. Hy vertel dat sy hom die beste les ooit oor dankbetuiging en tevredenheid geleer het: 'Ek onthou haar soos sy by die kombuistafel in ons huis gesit het; die harde, ou, bruin hande wat oor haar gestyfde voorskoot gevou is, die blink ogies en die skor ou fluisterende stem wat sê: 'Baie dankie Heer, vir my spys en drank.' Ek het gevra: 'Anna, wat is spys en drank?' 'Dis wat ek het om te eet en te drink,' het die ou verpleegster geantwoord. 'Maar jy sou jou spys en drank gekry het, of jy nou vir die Here dankie gesê het of nie,' het ek gesê.' 'Ja,' het Anna geantwoord, 'maar wanneer mens dankbaar is proe alles beter!'
Die opwinding wanneer mens iets nuuts kry, of selfs iets waarvoor mens hard gewerk het, is dikwels kort van aard en word vinnig deur jou begeerte vir die volgende ding, vervang. Salomo het dit as volg gestel: '...die oog word nie versadig van wat hy sien nie, die oor word nie vol van wat hy hoor nie' (Prediker 1:8 NLV).
Wat is dan die oplossing? Om 'n houding van dankbaarheid in te neem! Deur gereeld God se goedheid te onthou, maak dit vir jou moontlik om elke seëning in jou lewe te geniet en te onthou om te sê: 'Dankie, Here.' Die Psalmdigter het 'n hart van dankbaarheid gehad. Hy het geskryf: 'Dis goed om die Here te dank, om u Naam te loof, Allerhoogste; om soggens u goedheid aan te kondig, en in die aand u getrouheid' (Psalm 92:2-3 NLV). Wees dus altyd dankbaar teenoor God.
Sielskos: 1 Sam 8-10; Mark 16:9-20; Ps 60; Spr 22:7-11
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za






