Die Woord vir Vandag

2023-10-05

Skaal af om te groei

Geskryf deur Bob and Debby Gass

Psalm 27:4 NLV

Jy mag dalk materieel moet afskaal om geestelik te groei. As die dinge wat jy besit die dinge wat die meeste saak maak, soos vrede, vreugde en vervulling by jou steel, oorweeg dit om jou lewe te vereenvoudig. Skaal af op die dinge wat nie saak maak nie, sodat jy op die dinge wat wel saak maak, kan fokus.

Gedurende haar suksesvolle loopbaan as operasanger, het Jenny Lind, wat ook die 'Sweedse Nagtegaal' genoem is, een van die rykste kunstenaars van alle tye geword. Tog het sy haar loopbaan op die punt waar sy op haar beste gesing het, prysgegee. Sy het nooit as operasanger teruggekeer nie. Mense het oor die rede daarvoor gespekuleer en gewonder hoe sy die applous, roem en geld kon prysgee. Jenny het tevrede gelyk om in privaatheid in 'n huis by die see te woon.

Eendag het 'n vriend haar gevind waar sy op die sand met haar Bybel op haar knieë sit en na 'n wonderlike sonsondergang kyk. Soos hulle gesels het, het die vriend gevra: 'Madame Goldschmidt [Lind se getroude van], hoe het dit gebeur dat jy die verhoog op die kruin van jou sukses verlaat het?' Sy het stilweg geantwoord: 'Wanneer elke dag my minder hieroor (met 'n vinger op haar Bybel), en glad nie daaraan nie (wysend na die sonsondergang) laat dink het, wat anders kon ek doen?'

Koning Dawid het al die dinge waaroor ons droom besit en tog het hy geskryf: 'Een ding vra ek van die Here, en dit sal ek bly soek; om in die huis van die Here te bly al die dae van my lewe, om my te verbly in sy goedheid, en in sy tempel daaroor na te dink' (vers 4 NLV). Dít is 'n man met die regte prioriteite!

Sielskos: 1 Sam 11-13; Joh 1:1-13; Ps 51; Spr 22:12-16

Skakels na Bybelverse: Holy Bible

Eerste Rekord    |    Vorige Rekord    |    Volgende Rekord    |    Laaste Rekord

Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za



Current track

Title

Artist

Background