Die Woord vir Vandag
2019-09-26
Neem tyd om te rus
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Daar is 'n antieke legende wat sê dat die apostel Johannes 'n patrysvoël gehad het waarna hy omgesien het. Een dag het 'n jagter hom besoek en was verbaas om hom met die voël te sien speel. 'Ek is verras om te sien dat jy jou met sulke beuselagtighede besig hou wanneer daar belangrike sake rakende die evangelie is waarmee jy kon besig wees.' Johannes het geantwoord: 'Is jou boog altyd styf gespan?' Die jagter het gesê: 'Nee, dit sal die boog onbruikbaar maak. Ek maak die snaar los, tensy ek besig is om te jag.' Die apostel het geknik en gesê: 'Ek ook; ek maak my gedagtes vir dieselfde rede los.' Raai wie het gesê: 'Kom julle nou self eenkant toe na 'n stil plek en skep 'n bietjie asem.' Jesus, die Persoon wat die meeste ooit in aanvraag was. Jesus is mos ons voorbeeld. Een dag het 'n pastoor aangekondig dat hy nie op vakansie sou gaan nie, omdat die Duiwel nooit 'n vakansie neem nie. Sommige gemeentelede het gelag; ander het gedink dat hy baie 'geestelik' is. Een man het egter huis toe gegaan en ondersoek ingestel of Jesus dieselfde houding gehad het. Hy het gevind dat Jesus in sy drie jaar van aktiewe bediening, tien periodes gehad het wat Hy weg van die skare gegaan het, tesame met sy nagtelike rus en die rus op die Sabbat. Die volgende Sondag het hy vir die pastoor gevra: 'Volg jy die Duiwel se voorbeeld, of Jesus se voorbeeld?' Ontspanning is presies dit: 'n tyd om ontslae te raak van jou spanning, jou energie te vernuwe en jou kosbaarste verhoudings te voed. Neem dus die tyd om te rus.
Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Matt 27:57-66; Ps 60; Spr 22:7-11
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za






