Die Woord vir Vandag
2022-09-18
Om moedeloosheid te oorkom (2)
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Om moedeloosheid te oorkom, moet jy twee dinge doen. 1) Spreek die regte woorde. Een van die grootste redes vir moedeloosheid, is die negatiewe manier waarop jy met jouself praat. In sy boek, Spiritual Depression, skryf dr Martyn Lloyd-Jones, een van Brittanje se voorste hartchirurge, die volgende: 'Die meeste van jou ongelukkigheid in die lewe is die feit dat jy vir jouself luister, eerder as om met jouself te praat.' Met dit bedoel hy dat ons toelaat dat negatiewe boodskappe in ons verlede ons denke affekteer, in plaas daarvan om aktief vir onsself goeie dinge te sê wat ons sal help om meer positief te dink (sien Filippense 4:8). Jesus het gesê: 'Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg [probleem] sê: 'Mag God jou oplig en in die see gooi,' en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie' (Markus 11:23 NLV). Woorde is kragtig. Hulle kan óf jou vrese, óf jou geloof versterk. Die keuse is joune.
2) Handhaaf die regte verwagtinge. J. Wallace Hamilton het een keer opgemerk: 'Elke persoon se lewe is 'n dagboek waarin hy of sy bedoel om een verhaal te skryf, maar geforseer word om 'n ander verhaal te skryf.' Het jy dit al so ervaar? Dikwels draai die lewe anders uit as wat jy beplan het. Hier is egter die goeie nuus: Die verhaal wat jy skryf kan beter wees as die een wat jy in gedagte gehad het - mits jy egter die regte verwagtinge het. Wat verwag jy? Voor jy daardie vraag antwoord, tel eers jou Bybel op en kyk wat God vir jou beloof het - en eis dit dan op!
Sielskos: 1 Kon 3:4-28; Jak 1:2-8
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za




