Die Woord vir Vandag

2023-10-28

'Ek is gedissiplineerd en het selfbeheersing'

Geskryf deur Bob and Debby Gass

2 Timoteus 1:7 NLV

Om gelukkig in die lewe te wees, moet jy die regte dinge begin doen en ophou om die verkeerde dinge te doen. Een van die eerste dinge wat jy moet doen, is om op te hou om te sê: 'Ek het net nie enige selfbeheersing nie.' Selfbeheersing is 'n keuse en hoe meer jy dit kies, hoe sterker word dit. Die beste deel is dat die krag van selfbeheersing van God af kom, nie van jouself af nie. 'Want God het ons nie 'n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.'

Dit gebeur outomaties wanneer jy tyd in gebed met God en sy Woord bestee. 'My seun, luister baie goed na wat ek vir jou sê... Hou dit altyd in gedagte. My woorde beteken lewe vir dié wat daarna luister; gesondheid vir die hele liggaam van die een wat hulle betekenis ken. Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen' (Spreuke 4:20-23 NLV). God sal jou die krag gee om dit te doen, maar jy moet elke dag daardie krag uitoefen.

Daar is geen kortpaaie as dit by selfbeheersing kom nie. Onthou jy hoe baie jy op skool jou maaltafels moes herhaal voor dit deel van jou denke geword het? Nou doen jy dit outomaties. Soortgelyk, wanneer jy begin dink soos God wil hê jy moet dink, sal jy in staat wees om die Duiwel te oorwin en in oorwinning te wandel. Die eerste stap is om op te hou sê: 'Ek het nie enige selfbeheersing nie.' Solank as wat jy glo dat jy nie 'n gedissiplineerde persoon is nie, sal jy nie wees nie. Kom dus vandag in ooreenstemming met God se Woord en begin sê: 'Ek is gedissiplineerd en het selfbeheersing.'

Sielskos: 1 Tim 1-3; Joh 6:52-59; Ps 114; Spr 24:23-25

Skakels na Bybelverse: Holy Bible

Eerste Rekord    |    Vorige Rekord    |    Volgende Rekord    |    Laaste Rekord

Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za



Current track

Title

Artist

Background