Hernude denke sien dinge in ‘n ander lig

Written by on 8 Feb 2022

Die vermoë om dinge anders te sien, kan onmoontlike situasies omkeer.

Wanneer mens op ‘n wintersaand gesellig voor die kaggel kuier, word daar oor alles en nog wat geklets. Só ‘n geklets op ‘n besondere koue aand, lei toe tot ‘n tema wat my op ‘n totaal nuwe manier oor verwagtinge laat dink het. Terwyl ek heerlik aan ‘n beker geurige warm sop smul, merk ‘n vriend op dat spesifieke verwagtinge volgens jou eie denke ‘n mens kan beperk, maar vooruitsigte maak jou vry.  

Verwagting vs vooruitsig

Dit het my onmiddellik laat frons. Hoe nou? Hy vertel toe verder: ‘n verwagting beteken dikwels om op iets spesifieks te reken terwyl ‘n vooruitsig die moontlikheid bied dat iets gaan gebeur. Is daar regtig ‘n verskil?

Die meeste Jode het die verwagting gehad dat hulle Verlosser in die vorm van ‘n koning vanaf ‘n troon sou regeer. Hy sou hulle na lang-verwagte vryheid lei. Toe daag Jesus Christus op – die Koning van konings – gebore in ‘n stal.  Volgens logiese denke is daar nie aan verwagtinge voldoen nie – dit het eenvoudig nie sin gemaak nie.

Dié wat nederig en wys genoeg was om Hom te herken, het Sy lof besing. Ander het goud, wierook en mirre aan Hom geskenk. Anders as die algemene verwagting van lof, roem en mag (vereenselwig met aardse konings) was die vooruitsig dat Sy kroon jare later van dorings gemaak sou wees. Hy het sy lewe onder bespotting en met enorme leiding gegee en daarna het Hy die dood oorwin. Dit het alles verander.

Ek wonder dikwels of ek Hom as die Koning van konings sou herken het? Of nie? Dit is dan wanneer ek die Here se aangesig naarstigtelik soek. Ek vra Hom om my denke (volgens Sy Woord) aanhoudend te vernuwe. Ek wil op niks uitmis wat Hy beplan nie. Dan gooi dan sommer ook spesifieke verwagtinge oorboord en sien reikhalsend uit na die vooruitsig van wat Hy in Sy unieke, magtige en Goddelike wysheid beplan.

Die Koning van konings het ons met Sy bloed vrygekoop. Nou kan ons met outoriteit in Sy naam oor omstandighede regeer.  Dit verg geloof om dit te verstaan, logika vat mens net sover as die vleeslike realm. Die Gees maak dikwels nie logies sin nie. Daarom moet ons onsself oopstel dat Hy ons denke vernuwe. Dan kan ons reikhalsend uitsien na die vooruitsig wat Hy voor die grondlegging van die aarde vir jou en my beplan het.

Geskryf deur Jean Lung.

Vir daaglikse inspirasie lees Die Woord van Vandag of luister ons potgooie op iono.fm


Current track

Title

Artist

Background
Radiokansel