Praat God vandag nog met ons?

Written by on 6 Feb 2022

Soek ons nog God se stem en wil ons nog enigsins hê dat God met ons moet praat in vandag se tye? Het die moderne era en tegnologie hierdie behoefte oorbodig gemaak en weet God se kinders nog hoe om God se stem te hoor?

Hierdie is sekerlik die moeilikste onderwerp waaroor ek al moes skryf, want my persoonlike luistervaardighede is maar ondergemiddeld. Dit is verseker ‘n baie belangrike onderwerp in die tyd waarin ons leef; waar ons oorval word met so baie stemme. As jy iets wil weet kan jy dit Google en almal is nou ‘n kenner in alles.

God praat maar luister sy Kinders?

Menslik gesproke is dit baie makliker om te luister as om te hoor! Moses en Elia kon albei daarvan getuig. Moses ervaar sy braambos ervaring, toe God met hom praat, as ‘n intens heilige oomblik en hy het ook geweet presies wie met hom praat – God het homself duidelik geïdentifiseer. Maar toe gee God aan hom ‘n opdrag waarvan hy nie baie gehou het nie (Eks 3:1 -6). Elia moes ook eers sy ore spits voor hy God se stem in die geluid van ‘n sagte fluistering kon hoor (1 Kon 19:12).

Dit laat ‘n mens jouself afvra: Moet ek en jy verwag dat ons God se stem slegs sal hoor by spesiale en uitsonderlike geleenthede soos Moses en Elia? Maar terselfdertyd moet ‘n mens ook ‘n teenvraag vra: “Het die uitdrukking ‘…en toe sê die Here vir my…’ dalk al te alledaags en ‘n bietjie goedkoop geword?’”

Gelukkig kan ons wel sê dat daar vandag nog baie maniere is waarop God met ons praat. Om slegs ‘n paar te noem praat Hy met ons:

  • in antwoord op gebed
  • deur ‘n preek
  • die oopmaak en toemaak van deure (geleenthede)
  • deur ander mense
  • deur Sy Woord

Veral in vandag se tye moet ons waaksaam wees vir valse profete wat valse verwagtinge skep.

So sê die Here die Almagtige:
Julle moenie luister na wat die profete sê nie,
die profete wat vir julle as profete optree.
Hulle wek vals verwagtings by julle,
hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink,
nie oor wat die Here sê nie.
17Hulle hou aan om vir dié wat My minag,
te sê: “Die Here sê daar sal vrede vir julle wees.”
Vir dié wat hardkoppig is, sê hulle:
“Daar sal nie ‘n ramp oor julle kom nie.”

Jeremia 23: 16-17

Dit is natuurlik veral deur sy Woord wat Hy met ons praat, maar dan verwag Hy dat ons dit met die nodige erns en toewyding sal lees!


Die feit is dat ‘n gesprek met God steeds ‘n heilige oomblik is en dat ons seker moet maak dat ons sy boodskap aan ons reg verstaan en of dit regtig sy stem is wat ons hoor. Dit mag geduld vra, maar veral ook ‘n bereidwilligheid van my en jou om te doen wat Hy van ons vereis, selfs as dit ‘n ongemaklike opdrag is wat ons moet uitvoer.

Luister gerus na Radiokansel se potgooie op iono.fm. Vir inspirasie skakel in op Dinsdae om 07:20 vm saam met Lynette Beer tydens Goeie Nuus Tyd.

Geskryf deur Jean Lung.


Current track

Title

Artist

Background
Radiokansel