Waarvoor glo jy vir hierdie jaar?

Written by on 15 April 2022

2021 het soos ‘n sneltrein verbygespoed en voor ek my oë kon uitvee het 2022 aangebreek. ‘n Nuwe, vars jaar lê voor en ek vra myself: Waarvoor glo ek vir hierdie jaar?

In wie glo ek?

Hierdie is ‘n basiese en baie belangrike vraag, maar voor mens werklik kan vra: “Waarvoor glo ek?” is die deurslaggewende vraag: “In wie glo ek?”

Die Here word nie deur “wat” gedefinieër nie. Omstandighede maak Hom nie ongemaklik of vreesagtig nie. Hy is die almagtige, alomteenwoordige God. Hy het ‘n ewigheidsbegrip wat ons menslike verstand nie maklik kan verstaan nie. Hy sê self; “‘n duisend jaar is soos ‘n dag en ‘n dag is soos ‘n duisend jaar.”

Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

2 Petrus 3:8

In watter seisoen bevind jy jouself tans, aan die begin van 2022? Is daar nuwe ontwikkelinge en uitdagings of moet jy vir eers net rustig wees, nie te vining aanbeweeg na die volgende stap nie en gevul word met die Here se vrede?

Dit verskil vir elkeen van ons, daarom moet ons onderskei wat die Here ‘hier en nou’ vir ons beplan. Hy sê hy het goeie planne vir ons. Kies ons om dit te glo? GLO ons werklik dat sy planne goed is al lyk omstandighede soms wankelrig?

Die ‘wie’ en die ‘wat’ in perspektief

Wanneer ons vra” “In wie glo ek?” kry ons ‘n openbaring van die Here se karakter – een van onmeetbare, ontelbare liefde. Sodra ons in verhouding met Hom staan, leer ons wat sy ‘hartklop’ vir ons is. Dan kan ons vra: Waarvoor glo ek? Jy sien, die ‘wat’ word deur die “Wie” gedryf.

Wanneer ons binne sy wil funksioneer, word dit maklik om te glo want omstandighede bepaal nie ons toekoms nie, maar dit word bepaal deur die Here self, die almagtige God wat die hemel en aarde geskape het.

Mag ons kies om hierdie jaar Hom beter te leer ken en gevul word met geloof vir die goeie planne wat Hy vir ons het.

Geskryf deur Jean Lung. Vir daaglikse inspirasie besoek Die Woord vir Vandag, of luister na ‘n Radiokansel potgooi op iono.fm.


Current track

Title

Artist

Background