Die Woord vir Vandag
2023-10-12
Wat babas weet
Geskryf deur Bob and Debby Gass
'n Navorser by die John Hopkins Universiteit sê dat kinders so jonk as agt maande in staat is om woorde, goed of sleg, te hoor en te onthou. 'Klein oortjies luister,' sê dr Peter Juscyzk. Babas is in hierdie studie, wat in die gerekende joernaal, Science, verskyn het, vir ongeveer tien dae aan drie stories blootgestel. Twee weke daarna is hulle in 'n laboratorium getoets en kon duidelik die woorde in die stories identifiseer, terwyl hulle glad nie op woorde wat hulle nie gehoor het nie, gereageer het nie.
Professor Emerita Robin Chapman, 'n taalkundige wat aan die Universiteit van Wisconsin verbonde was, benadruk die belangrikheid van hierdie studie. Dit demonstreer dat baie jong kinders wel aandag aan die klanke van taal gee en in staat is om die klanke waarmee hulle bekend is, later uit te ken. Nee, hulle mag dit dalk nie ten volle verstaan nie, maar hulle brein is bedraad om die klanke op te neem en dit later weer te gee.
Dus, wanneer jy die tyd neem om met klein kindertjies te praat, leer jy hulle nie net taalvaardighede nie, maar saai saadjies van waarheid wat later in hul lewe kan blom. Woorde is vormend; hulle is kreatief! Die eerste woorde wat jou kind hoor, sal deur jou gespreek word. Die eerste musiek waarna jou kind luister, sal deur jou gekies word. Jou kind is 'n kosbare stukkie klei en jy is die pottebakker wat God geroep het om hulle te vorm. Ons lees in 2 Timoteus 2:20 van besonderse houers van goud en silwer en van alledaagse houers van hout en klei. Jy help om jou kind te vorm in die tipe houer wat hy gaan word. As jy wys is, sal jy die goddelike vormingsproses so gou as moontlik begin.
Sielskos: 1 Sam 27-31; Joh 3:1-8; Ps 110; Spr 23:6-9
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za






