Wat gaan tel voor God se troon?

Written by on 11 Jan 2022

Dit is onbetwisbaar dat elkeen van ons voor God se troon gaan staan. Regverdiges kry hulle beloning en ongereddes word vir ewig veroordeel. Dis die een plek waar jy kry wat jou toekom, en sonder die bloed van Jesus is jy verlore.

Maar as Christen staan jy daar om meer, of minder, beloon te word en daardie kardinale oomblik bepaal jou plek in Sy koninkryk vir ewig vorentoe.

So as jou hele lewe oor daardie een oomblik gaan, en die lewe soos ‘n asem is, dan beter ons hierdie stukkie geallokeerde genadetyd ten volle te gebruik! Ons wil immers met vrymoedigheid voor Hom op daardie dag kan staan. Dan tel Sy opinie, en wat Hy gedink het jou prioriteite tydens jou leeftyd moes wees, en dit bepaal ALLES!

So wat beïndruk God? Verseker nie of jy gelukkig was, hoeveel jy besit het of wat ander mense van jou gedink het nie.

Wat sal dan waarde dra voor God se troon?

Alles wat in die Naam van Jesus, ter wille van Jesus, en op die fondament van Christus gedoen is; in gehoorsaamheid tot Sy Woord en gelei deur die Gees.

  • Alles wat jy in geloof gedoen het (2 Kor. 5:7)
  • Of jy ‘n liefde vir Sy Woord gehad het – om Hom (Sy wil en Sy hart) te ken (Joh 17:3)
  • Of jy Hom liefgehad het met jou hele hart, hele siel en hele verstand (Luk 10:27)
  • Of jy getrou was aan Hom (Es 23)
  • Jou gebedslewe (m.a.w. jou verhouding met Hom) (Fil 4:6)
  • Of jy aan Hom gehoorsaam was, maak nie saak wat jou vlees, jou vriende of jou kultuur sê nie (Joh 14:15)
  • Of jy Hom terugverwag het en daarom ‘n hart vir verlorenes gehad het (1 Thess 2:19)
  • Of jy dissipels gemaak het (Matt 28:16)
  • Of jy jou medegelowiges gedien en liefgehad het (Matt 10:42)
  • Of jy die wat niks vir jou kon terugdoen nie, gedien en liefgehad het (Luk 14)
  • Of jou motiewe rein was (1 Kor 4:5)
  • Of jy in karakter gegroei het (Gal 5:22) en in heiligheid (1 Pet 1:16)
  • Of jy ander hoër as jouself geag het (Mark 9:35)
  • Of jy ‘n martelaar was (Openbaring 2:10)
  • Of jy ‘n kerkleier was (jy word strenger beoordeel). (1 Petr 5:2-4)

Ons het nodig om tot stilstand te kom en selfondersoek te doen oor waarmee ons, ons besig hou. Oorweeg jou lewe nou in jou genadetyd! Ons het nie meer tyd, moeite of geld om op iets anders te mors nie.

Maak seker jy weet wat gaan by jou troonafspraak tel. Jy kan ook na hierdie boodskap se potgooi luister op iono.fm.

Geskryf deur Janine van Niekerk.


Current track

Title

Artist

Background
Radiokansel 657AM