Wat is die ware betekenis van Kersfees?

Written by on 7 Dec 2021

Wat is die ware betekenis van Kersfees vir jou as kind van God?

Kersfees is ‘n tyd van liefde, gee en ontvang. Ons kom dit in beide die Christelike en sekulêre wêreld teë. Hoeveel maal sien ons nie families wat geskenke van alle groottes, kleure en ‘geure’ oopmaak nie? Jonk en oud word weer soos kinders – afwagtend en nuuskierig om te sien wat die inhoud van die aanloklike geskenkpakkies inhou.

Ons weet natuurlik dat die Kersseisoen nie oor geskenke gaan nie. Dit gaan oor Christus as die grootste Geskenk, wie ons deur geloof ontvang, en saam met Hom die ewige lewe. Ons Redder is gebore en ons verheug ons daarin!

Erken Christus as die ware betekenis van Kersfees

Sou ons die gawe (geskenk) van Christus herken het toe Hy op aarde was? Hy is in ‘n stal gebore en nie in ‘n paleis soos mens sou verwag nie. Die Geskenk het heel anders gelyk as wat mense verwag het. Baie het met groot afwagting uitgesien na hulle eie idee van die Koning van konings. As gevolg hiervan het menigte op die ewige, lewe-gewende Geskenk uitgemis.

Die vraag is steeds:

Herken ons die gawe (geskenk) van Christus? Of probeer ons Hom in ons eie klein (of groot) ‘geskenkpak’ inpas? Belemmer ons vooropgestelde idees ons om die God van alle gode en die Koning van alle konings se liefde, wysheid en krag te ervaar? Ons kan nie eens poog om hierdie glorieryke Geskenk self oop te maak nie. Ons het die Heilige Gees nodig om ons te lei en so maak Jesus Homself tree-vir-tree aan ons bekend wanneer ons gewillig is om te luister en getrou is om te volg.

My Kerswens is dat ons die volheid van Christus meer en meer sal ervaar, diep dankbaar vir Sy liefde, terwyl ons kennis van Hom groei. Mag jy hierdie Kersfees geseënd wees terwyl Hy meer oor Homself aan jou openbaar en mag hierdie groeiproses in die Nuwe Jaar voortduur.

As jy ‘n vars woord van God benodig, besoek dan gerus Die Woord vir Vandag of The Word for Today.

Geskryf deur Jean Lung.


Current track

Title

Artist

Background
Radiokansel