Die Woord vir Vandag
2023-10-09
God: die bron van jou selfvertroue
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Mense is van nature aangetrokke tot leiers wat selfbeheersing en selfversekerdheid oordra; hulle sal nie iemand wat nie selfvertroue het nie, volg. 'n Uitstekende illustrasie hiervan is 'n insident wat tydens 'n staatsgreeppoging in Rusland plaasgevind het. Weermagtenks het die regeringsgebou waarin president Boris Jeltsin en sy prodemokrasie-ondersteuners was, omsingel. Terwyl die weermag in posisie beweeg het, het Jeltsin uit die gebou gestap, op 'n tenk geklim, die bevelvoerder in die oë gestaar en hom bedank dat hy na die kant van demokrasie gedraai het. Later het die bevelvoerder erken dat hy nie van plan was om na Jeltsin se kant oor te gaan nie, maar die Russiese leier het so selfversekerd voorgekom dat die soldate by hom aangesluit het.
Groot presteerders toon selfvertroue ongeag omstandighede. Ware selfvertroue kom egter nie uit die goedkeuring van mense rondom jou nie. Die Bybel sê: 'Die Here is jou beskermer...' (Spreuke 3:26 NLV); dis die wete dat Hy jou geroep het en toegerus het om die werk te doen. Paulus het geskryf: 'Dít is die vertroue wat ons op God stel... Ons bekwaamheid kom van God' (2 Korintiërs 3:4-5 NLV).
Alhoewel ander mense dalk nie in jou mag glo nie, sal die wete dat God in jou glo jou in staat stel om in jouself te glo. Dawid het geskryf: 'So baie sê: 'God sal hom nooit red nie!' Maar U, Here, is 'n skild rondom my. U herstel my eer, U lig my kop weer op' (Psalm 3:3-4 NLV). 'n Selfversekerde leier kan vir diegene wat hom of haar volg sê: 'Ek vertrou op die God wat my geroep het. Ek het vertroue in jou. Ek glo dat ons saam dit wat God gedoen wil hê, kan bereik.'
Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Joh 1:43-51; Ps 29; Spr 22:26-29
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za






